Nuus

 


   
 
Gert Bekker -op versoek by Janharmsgat, as armgat, maar skatryk

Gert Bekker het homself so bietjie meer as 'n jaar gelede in die Oos-Vrystaat gaan vestig, maar was die vorige 8 jaar 'n inwoner van Cullinan. Die jakarandastrate van Cullinan roep hom gedurig nog terug en hoewel dit sy eerste optrede in Cullinan is die afgelope jaar, het hy intussen alweer 'n paar keer kom kuier. Sy beste vriend en kitaarspeler, George Oosthuizen, woon steeds in Cullinan en ons sal hulle alby in aksie sien by Janharmsgat se agterplaas op die 29ste Februarie!

"Cullinan sal altyd 'n spesiale plek in my hart hê! Ek dink met aangename herinneringe terug aan my tyd in Cullinan, maar dit blyk dat die baie toer met my sangloopbaan my gelei het tot 'n tipe van 'n nomadiese bestaan.
Op die oomblik is die klein dorpie Lindley, naby Bethlehem, my heenkome en gee dit vir my en my gesin baie vrede en vreugde."

Gert het die afgelope jaar baie meer op sy familie gefokus en voel nou goed ingeburger om sy nuwe huis as basis te gebruik vanwaar hy sy musiekloopbaan bedryf.
"Ek is mal daaroor om voor mense op te tree, maar wanneer ek by die huis is, is ek 'n baie private persoon. Lindley bied my daardie privaatheid en wanneer ek moet optree is ek net so 2 tot 3 ure weg van meeste van my optredes.
In Lindley is die lewe nog goedkoop, sorgvry en eenvoudig. Geen opgesmukte winkels wat jou verlei om baie geld te spandeer nie en geen kompitiese met die Jones's nie. Hier kan ek ek die lewe in eenvoud lewe, sonder om my af te sloof vir mammon.
Dit mag dalk alles baie idillies klink, maar ons werk maar net so hard en harder hier; en werk bly maar werk, maar dinge is minder gekompliseerd en dit is asof die horlosie stadiger tiek, want ons spandeer geen tyd in spitsverkeer of rye nie en die liedjie 'Miere' word al hoe meer 'n onwerklike realiteit vir my."

"Ek was nog altyd maar 'n dromer en het myself weer in die spasie van tyd gevind."

Kom geniet 'n dromerige, sorgvrye aand in die geselskap van Gert Bekker by Janharmsgat se agterplaas in Cullinan op 29 Februarie om 8nm.
Koste: R75pp
Bespreking noodsaaklik(slegs 100 plekke): 012-7340536/ janharmsgat@mweb.co.za / gert.bekker@mweb.co.za
 
 
Bekker & Key
Bekker & Key op Lindley.co.za
Bekker & Key is 'n splinternuwe toevoeging tot jou ontdekking van die Oos-Vrystaatse gasvryheid. Gert Bekker, eintlik 'n sanger/skrywer van beroep, en sy vrou Liesel Keyser, vryskut kunstenaar, het hierdie restaurantjie in Februarie geopen.

Gert het al die hoofgeregte uitgewerk en doen ook die voorbereiding daarvan, wanneer hy die naweek in Lindley is. Sien, die restaurant is op hierdie begin stadium nog net op Vrydae- en Saterdae-aande oop en dit is ongelukkig ook wanneer Gert meeste van sy optredes het. "Ons het intussen 'n baie bekwame sjef opgelei om die geregte voor te berei, na my smaak, indien ek die aand weg is met optredes."
Liesel hou in elk geval die fort en is op haar eis bedrewe genoeg om die pot daadwerlik aan die kook te hou.
Die geregte is eenvoudig, maar nie algemeen nie, eerder ''smaaksensasies''. Daar word eerder gemik na uitstaande gehalte as 'n groot bord kos; en nou moet jy nie dink dat jy honger hier sal weggaan nie!
Die vleis- en visporsies is groot genoeg om 'n groot man versadig te maak, maar dit is onopgesmuk en so voorberei om die smaak van die vleis/ vis uit te bring.

Die voorgeregte is alreeds 'n groot treffer! Beide die biltong balsamic en romerige komkommersop, word telkemale weer bestel!
Die hoofgeregte is:
Beesfilet met 'n peper/brandewynsous
T-bone steak oor die kole gebraai na jou smaak
Skaaptjops oor die kole gebraai met Gert se eie kruiemengsel
Gerookte varknek in perske en lemoen gaargemaak
Baby hake met 'n romerige suurlemoen-en-knoffelsous

Alle geregte word bedien met vars opgekookte groente en aartappel skyfies.

Die nageregte is Liesel se spesialiteit:
Crepe Key onder die vlamme &
Roomys met 'n dik tuisgemaakte sjokolade sous

Die tema by Bekker & Key is om die lewe te vier! Eet, drink en wees vrolik...

So gepraat van drink, Bekker en Key het nie 'n dranklisensie nie en vra u om u eie drankies saam te bring. Ons bedien slegs Koffie en Tee.

Die restaurantjie kan slegs 18 mense op 'n slag bedien en dit is dalk wys om voor die tyd te bespreek. -''Ons word baie goed ondersteun en is baie dankbaar daarvoor!''
 

KKNK 2006
Hierdie jaar het Gert sy eie produksie by KKNK aangebied. Dit was goed verwelkom en almal wat daar was ten spyte van die warm weer, is huis toe met nuwe klanke en 'n warm gevoel in die hart. Afrikaans beweeg in nuwe dimensies!

Hier is 'n paar foto's, links na regs, bo na onder: Lekker kuier saam met Jak de Priester en kie, Gert en George, Gert en Chris Chameleon, KKNK Produksie span, Gaste, Oefen op die stoep.

Kliek op foto's om te vergroot

 

Kliek op 'n artikel om te lees:

 

   
 

Bladsy opgedateer: 2008/02/07

   
   
 

 www.bitmatrix.co.za